40 knoffelhuisies (en ‘n bietjie hoender)

knoffel voor
Inderdaad: 40 knoffelhuisies. In een gereg.

Ek lees op die oomblik weer Frances Mayes se boek Under the Tuscan Sun (moet dit nie aan die fliek meet nie, vra ek met trane in my oë, dis ‘n lieflike boek). Dis propvol beskrywings en resepte van eenvoudige maar heerlike geregte, disse wat jou onmiddellik kombuis toe wil laat hardloop en begin kook. (Of jou eie huis in die platteland kry met plek vir ‘n enorme groentetuin en vrugteboord sodat jy self kan oes. Watookal werk vir jou begroting.)

In elk geval, soos ek deur die lys van seisoenale groente en vrugte werk, het ek begin dink dis seker tyd om iets met knoffel te doen. Maar dis min dat knoffel die ster in die verhaal is, dan nie? Toe lees ek Mayes se beskrywing raak van gebakte hoender met 40 knoffelhuisies, en ek besluit: dis tyd. Moenie skrik vir die getal nie: die knoffel word nie opgekap nie, slegs geskil en gebak, so dit leen bloot sy geur aan die gereg. En wat ‘n geur is dit nie …

knoffel na

Die geroosterde knoffel, moet ek noem, is voortreflik wanneer gaar: sag en ryk  – ook heerlik gesmeer op geroosterde ciabatta. Saam met die wyn skep dit ‘n uiters geurige sous wat mens nie anders kan as om ruim oor die hoender en aartappels in jou bord te wil drup nie.

Hoender met 40 knoffelhuisies:
Lewer 4 porsies

Bestanddele:
10 stukke hoender, met die vel aan
40 knoffelhuisies, geskil (sowat 4 knoffelbolle, in totaal)
vars tiemie, so 5-7 stingels
500 g baba-aartappels, middeldeur gesny
so 4 of 5 salotte (shallots, lyk soos klein rooi uie) of 1 groot bruin ui, geskil
125 ml droë wit wyn
sout en swart peper na smaak
olyfolie

Metode:
1. Braai die hoender alkant in ‘n pan tot dit lekker verbruin het, skep dan uit en hou eenkant.
2. Sny die salotte in dun snye (of, as jy ‘n bruin ui gebruik, dun repies) en braai oor medium hitte in die pan, tot dit begin versag.*
3. Plaas die helfte van die knoffel in ‘n oondbak (een met ‘n deksel) en pak die hoender bo-op. Pak die aartappels tussen-in.
4. Skep die uie by, en strooi die res van die knoffel bo-oor.
5. Geur na smaak met sout en peper. Moenie skaam wees met die sout nie, die aartappels het dit nodig.
6. Stroop die tiemie van die stingels en strooi dit oor, gevolg deur die witwyn en ‘n skeut olyfolie.
7. Plaas in die oond en bak vir 60 minute teen 180 grade, verwyder dan die deksel en bak vir nog so 30 minute.

Sit voor saam met geroosterde groente of ‘n groenslaai.

* Ek het natuurlik die oorspronklike resep verkeerd gelees, dit vra vir scallions – sprietuie – nie shallots! Die shallot/salot, lees ek later, is ‘n matige ui met ‘n effense knoffelgeur. Jy weet, net vir ingeval ons nie genoeg knoffel hier gehad het nie … Maar geen skade hoegenaamd, trouens ek verkies dit bo die sprietuie, wat soms bitter kan raak as dit bak.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s