Somerreën

Tuin 1b
Saterdagoggend word ons wakker met die besef dat dit heerlik gereën het deur die nag. Alles voel vars en nuut. Soos ons die agterdeure oopmaak, begin die reuk van nat grond deur die huis trek. Ek loop kaalvoet en met ‘n beker koffie in die hand deur die tuin. Dit neem nie lank nie, my stadstuin is nie juis reusagtig nie. Maar  soveel plesier wat ek hieruit put. Dis moontlik my gunsteling deel van die dag: die eerste oggendkyk, om te sien wat deur die nag gebeur het – hier het ‘n roosboom ‘n nuwe loot uitgesteek of begin blom, daar begin ‘n boontjieplant ontkiem, elders het die eiervrugte se ligte pers blomme uiteindelik vrugte begin vorm.

Vanoggend lyk alles soveel mooier, helderder, groener. Met blink, vet silwer druppels wat orals tussen blare en stingels hang of rus. Op die romanesco-plant (foto bo) – wat heeltemal uit seisoen groei en waarvan ek sekerlik nooit ‘n blomkoolkop gaan sien nie – se enorme, groengrys blare lê druppels soos blink albasters.

En op die kappertjes. Dié outjies het sommer self opgekom in die bedding waar ek ‘n maand of wat gelede ‘n ruie kappertjieplant moes uitpluk omdat ‘n vreemde, klouerige swart luis sy intrek daar geneem het. Nuwe lewe, wonderlik. En ek het nie eens ‘n vinger gelig nie.

Tuin 1c
Tussen die blare van die silwerblaar – ongetwyfeld een van die mooiste plante in die tuin – is daar so baie water vasgevang dat mens seker ‘n kwart koppie sou kon oes …

Tuin 1d
Gewoonlik loop ek deur die tuin en al wat ek raaksien, is alles wat moet gebeur. Maak lysies van wat gesnoei moet word, of oor- en uitgeplant, waar daar ‘n pestilensie ingetrek het, waar daar bemesting kort, waar daar moontlik ‘n gaatjie is vir nog ‘n laventel of (my groot swakte) ‘n roos.

Maar ná ‘n nag se reën is dit asof die hele tuin – en ek – ‘n sug van verligting gee. Dan is dit tyd vir ‘n bietjie rus, ‘n bietjie vrede, en baie waardering.

Hoe kan ek anders voel, wanneer die beeldskone Mr. Lincoln-roos (onder) vanoggend in vol blom staan?

tuin 1f

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s