Sysagte, intense druiwe-sorbet

Jeanne Calitz Stillewe druiwesorbetSo, hiermee die druiwe-sorbet wat die resultaat is van gister se druiwe-oes. Ek is baie in my skik met die kleur, so ’n mooi diep-pers danksy al daardie klein druiweskille. Die tekstuur het ook lekker glad uitgekom en die smaak is baie intens – dit proe amper meer na wyn as druiwe, maar dis héérlik. Uiteindelik is dit ’n redelike parmantige sorbet, die soort wat jy in klein bakkies geniet ná ’n groot ete.

Roomys, kom ek agter, is ’n bliksem om af te neem, veral op ’n warm dag. Jy dink nog alles gaan goed, dan begin dit smelt (al teen die glasrand af; my eerste foto’s was in ’n glaskelkie, mini-ramp en semi-histerie, later lyk dit soos ’n pers melkskommel, toe sit ek dit maar terug in die vrieskas om te vries). En dan is al daardie pragtige ysige tekstuur skielik daarmee heen.

Ag wat, aan die smaak makeer daar gelukkig niks nie. Ek het ook bietjie van die sorbet-mengsel in hartjievormige ysbakkies gevries, en sien daarna uit om dit iewers saam met ’n warm, dronk poeding (dalk ’n aanpassing van die rum & raisin-idee?) voor te sit en kyk hoe die hartjies al oor die warm nagereg smelt …

Jeanne Calitz Stillewe druiwesorbet1

Continue reading

’n Piepklein druiwe-oes

Jeanne Calitz Stillewe druiwe1Toe ons ’n paar jaar gelede hier in Woodstock kom bly het, het ons ’n paar dinge saam met die huis geërf. Een daarvan was ’n redelike gebrek aan tuin (soos in: grond, om dinge in te plant). Klippies voor die huis, met geen beddings, en sement net waar jy kyk agter die huis, met ’n paar leë, ingeboude sement-blombakke. Vaal, hartseer en verlate. Wel, amper verlate. Want die ander ding wat ons geërf het, was ’n enkele lewende wingerdstok. (O, daar is ook drie interessante vrugtebome langs die huis – koejawel, mango en vla-appel. Maar dis ’n storie vir ’n ander dag.)

Ek het nog nie begin navors oor die geskiedenis van die erf nie – ek weet die huis is 60+ jaar oud, en dis omtrent al – maar gegewe die ingeboude wynkuip wat ons in die kelder ontdek het, kan ons net aflei dat hier eens op ’n tyd wyn gemaak is. Wat ’n lekker gedagte. Ons kon ook nog nie uitwerk watter soort wyndruif dit is nie, maar dat dit nie tafeldruiwe is nie, is duidelik. Daarvan getuig die klein korrels wat so dig op mekaar sit, wat selfs in hoogsomer meer suur as soet is.

Jeanne Calitz Stillewe druiwe2In elk geval, vir die afgelope paar somers is ons dus die ontvangers van ’n klein maar intense druiwe-oes. En alles verniet. Dis die een groeiende ding in my tuin waaraan ek absoluut geen aandag gee nie. Hy is al dekades hier, het my duidelik nie nodig nie, en groei soos ’n wilde ding. In die somermaande moet ons net keer en terugsnoei of dit neem die hele erf oor.

Jeanne Calitz Stillewe druiwe4Maar oor die druiwe, daaroor kla ons nie. My man het al wyn daarvan gemaak (ook ’n storie vir ’n ander dag), en onlangs het ek besluit hierdie pragtige purper korrels is net die ding vir ’n sorbet. So, vanoggend vaar ek toe onder die takke in met ’n snoeiskêr. Ek het gekrap en gevlek uit die stryd getree, maar met ’n stuk of sewe swaar trosse as beloning. Die resultaat is soos ek skryf besig om in die vrieskas af te koel, ’n sysagte, intense sorbet met die allermooiste diep-pers kleur.

Siende die spulletjie egter oornag moet vries, volg die resep en foto’s môre …

Nog tamaties – nou vir ’n driftige teriyaki

Jeanne Calitz stillewe teriyakeEk was nooit regtig ’n kerrie-mens nie, tot ek in 2013 vir ’n paar weke saam met my man Sri Lanka toe is. Daar eet jy kerrie, of jy eet nie. Want kerrie en rys is Sri Lanka se nasionale gereg – kerrie vir ontbyt, kerrie vir middagete, kerrie saans. Dit klink dalk of ek kla: dis glad nie die geval nie. Die besoek was ’n openbaring. Ons het soos konings gesmul aan die oneindige variasies van kerrie en rys wat aan ons voorgesit is, en mettertyd raak die palet al hoe meer gewoond aan die branderigheid van die kos. (Plus, jy sluk dit af met die heerlikste vars, versoete lemmetjiesap om die brand te blus, of regte gemmerbier om die maag te bedaar.) Waarlik, die plek se kos het só ’n diep indruk gemaak dat ons vir ’n kort kookkursus gegaan het by ’n skaam maar baie vriendelike tannie, bloot bekend as Mama, en haar behulpsame dogters in die suidelike dorpie van Galle.

Van die sowat tien resepte wat hulle daardie dag met ons deurgedraf het, was my gunsteling en die een wat ons die gereeldste maak, ’n resep vir garnaal-teriyaki. Nou ja, Suid-Afrika is nie so ryk aan garnale soos Sri Lanka nie, en boonop is dit op die oranjelys, sover ek weet. So ek maak hierdie teriyaki met ontbeende hoenderdye, of kasjoeneute vir ’n vegetariese alternatief. Die lekker ding van dié resep is dat dit in die somer grootliks staatmaak op seisoenale groente soos soetrissies, brandrissies en tamaties.

Ek gaan eerlik wees, dit vat nogals ’n rukkie se sny en kap voordat jy kan begin kook. Maar as daardie gedeelte eers klaar is, dan gaan dit sommer vinnig – die hele gaarmaaktyd behoort nie langer as 15 minute te neem nie. Onthou dus om die rys op te sit voor jy begin met die wok, anders gaan jy droëbek moet sit en wag. Hoe dit ookal sy, hierdie gereg maak die wag die moeite werd.

Hitsige teriyaki met soetrissies en tamaties
Lewer 4-5 porsies, afhangende van hoe groot die soetrissies is.

Jeanne Calitz stillewe teriyake2

Continue reading

Laatmiddag-koek van pruime en bloubessies

pruimkoek3Eintlik was die plan om vandag ’n sorbet te maak, ‘n persrooi druiwe-sorbet, om presies te wees. Maar hier teen 15:00 word ek oorval deur ’n dringende behoefte aan koek. Enige koek. Nie mooi of groot of fancy nie.

Net koek, asseblief tog en om hemelsnaam. Nóú.

Ek storm wanhopig in die kombuis in en sien, hoera, daar is nog bloubessies van verlede week se sjokolade-bruintjies met bessies oor. En ek het gister pruime gekoop. En ons het meel, suiker, eiers … Só kom dinge vinnig bymekaar en kort voor lank staan en meng ek aan ’n eenvoudige pruim-en-bloubessiekoek.

pruimkoek2

En dit vervul al die vereistes. Dis nie groot of fancy nie – dis eintlik effens plat. (Dis eintlik baie plat. Ag wat, mens kan nie alles kry in die lewe nie.) Maar dit smaak wonderlik. En soos die vrugte bak vlek dit die deeg die mooiste donkerpienk en -pers kleure. ’n Pimpel en pers-teekoek, dus. Of, in ons geval, die ideale pasmaat vir ’n koppie koffie, laatmiddag. En ’n lekker alternatief vir ontbyt, more. (As dit die oggend haal. Ek maak geen beloftes nie.)

Continue reading

Vinkel (geen koljander)

vinkel1Ons het te lanklaas vis geëet, besluit ek vanoggend. En ek is lus vir ’n spesifieke visgereg, een wat ek ’n paar jaar gelede by een van my gunsteling-restaurante, Gabriëlskloof in die Overberg, geëet het. Daar het hulle gerookte forel voorgesit saam met die mees ongelooflike vinkel-vinaigrette en gebraaide aartappels.

Kyk, ek was nie voorheen ’n groot vinkel-voorstander nie. Die sterk droplekker-geur het my nie aangestaan nie. Maar daardie gereg het my mening vir ewig verander. Plus, vinkel is nou in seisoen; dus die besluit om die resep te probeer namaak. Soos die duiwel dit wou hê, kon ek nêrens forel opspoor vandag nie, maar het reggekom met ’n stokvissie só onlangs uit die see getrek dat hy skoon wou uitmekaarval in die bord.

Die vinkel-vinaigrette, moet genoem word, is so lekker vars en geurig dat mens dit sou kon vergroot tot volwaardige slaai … Ek gee hiermee net die resep vir die vinaigrette – dis lekker saam met stokvis maar ek dink steeds forel sal die beste werk. Rooster die vis, sit dit voor met bykosse na jou smaak, en skep lepelsvol van die vinaigrette oor die vis net voor jy voorsit.

vinkel2

Continue reading

Geurige tamatiekerrie

tamaties volgendeOp dae wanneer daar nie tyd is vir inkopies doen of behoorlik te beplan vir aandete nie, is daar vir my iets geweldig bevredigend om waaraan ek dink as nood-leer-bid-kos te maak. Wanneer jy half desperaat in jou koskas rondgrawe – of in die groentetuin – en besef dat jy eintlik alles het vir ’n nederige dog smaaklike aandete. Gister was só ’n dag, vervolmaak deur die ontdekking van ‘n Nigel Slater-resep vir vinnige groentekerrie wat ruim gebruik maak van tamaties en eiervrugte, wat nou in seisoen is, en iets wat ek op die oomblik heerlik oes in my tuin.

As ons nou eerlik moet wees is dit beslis nie die mooiste gereg wat ek al ooit gemaak het nie, maar danksy die toevoeging van knoffel, gerasperde gemmer en lepelsvol kerriepoeier is dit besonder geurig. Boonop maklik om te maak. Gister het ons dit saam met gemengde rys en ’n lepel of twee jogurt geëet, vanaand eet ons die oorskiet, volgens Nigel se raad, saam met roti’s. Die eiervrug gee nogals substansie aan die gereg en maak daarvan ’n lekker vullende aandete.

tamaties volgende2

Continue reading

Oestyd!

oestyd
En uiteindelik begin die tamaties in my tuin ryp word. Ek het al begin dink ek kan die konsep van ‘n tamatie-oes vanjaar op my maag skryf – te laat geplant, te min water oor Desember terwyl ons op vakansie was, te veel Suidooster vroeg in die jaar. Maar nou hier is ons tog nou, met nog heelwat oppad. Ek is kinderlik opgewonde en besig om klomp kosplanne te maak. Beslis nog weer van die gevulde tamaties van Januarie; defnitief ‘n baksel gebraaide groen tamaties;  voorwaar ‘n stewige porsie teriyake, waar die tamaties skuins voor opskep ingeroer word. En vir aandete vanaand, ‘n doodeenvoudige resep vir tamatie-en-eiervrugkerrie wat ek in Nigel Slater se Kitchen Diaries raakgelees het. (Wat ek more sal post, want dis laat, en teen die tyd wat ek klaar gekook was, was die lig vir mooi foto’s verby.) Maar al wat ek solank wil sê is: YUM.