Sappige soetrissies uit die tuin

peppers voor
‘n Openbaring, vandag. Ten spyte van ‘n temperatuur van 33 plus skakel ek die oond aan en plaas ‘n paar heel rooi soetrissies in die oond om te rooster. Net so, geen olie of niks. Skaars tien minute later begin wonderlike geure deur die huis drentel. Sowat 40 minute daarna word hulle uitgehaal, skoon swart gebrand, en in plastieksak toegemaak om bietjie verder te stoom, sodat die skille maklik kan afkom.

Die eindresultaat, die rissievleis, nadat jy die skil verwyder het, is iets uit ‘n ander wêreld: die kleur (skielik skelrooi), die tekstuur (murgsag), die smaak (soetsuur, en met ‘n subtiele, rokerige aard); alles ongelooflik. ‘n Fees vir die sintuie. Ek dink ek is verlief. Nog meer, ek dink nie ek gaan my ooit weer bemoei met ‘n rou soetrissie nie. Die geroosterde weergawe het net soveel meer karakter. Dit help natuurlik dat dié betrokke rissies uit my tuin kom. Mens is geneig om bevooroordeeld te wees oor enigiets wat jy self gekweek het …

In elk geval – die rissies, geskil, pitte verwyder en grofweg opgekap, word deel van ‘n bitterlik eenvoudige pastasous, een wat ek in alle nederigheid moet erken van die lekkerste pasta’s is wat ek nog ooit geëet het. Eenvoud wen, dikwels.

Pastasous met geroosterde soetrissies
Genoeg vir 4 porsies
peppers klaar

Bestanddele:
5-6 rooi soetrissies
½ rooi ui, fyngekap
2 knoffelhuisies, fyngekap
1.5 blikkies gekapte tamaties
½ t sout
1 t suiker
so 1 T dennepitte
vars basilie
Pasta van jou keuse, genoeg vir 4 porsies, gekook tot al dente

Metode:
1. Rooster die soetrissies soos bo beskryf teen 180 grade. Jy sal sien as die rissies uit die sak kom, sal jy die skille maklik kan aftrek. Verwyder die pitte en stronke en kap grofweg op; hou eenkant.
2. Braai die ui en knoffel in ‘n bietjie olyfolie oor medium hitte tot sag.
3. Voeg die gekapte tamaties by en geur met peper, sout en suiker.
4. Laat die mengsel bietjie af- en inkook.
5. Kook intussen die pasta, en braai die dennepitte in ‘n droeë kleefvrye pan tot net goudbruin (hou fyn dop, hulle brand maklik).
6. Voeg die rissies by die tamatiemengsel en roer deur. Laat dit vir so ‘n minuut of wat warm kook en skep dan die mengsel oor die pasta.
7. Garneer met gesnipperde basilie na smaak, en met dennepitte bo-oor gestrooi.

Dan, ‘n nota oor die rissies:
Dis die eerste eer wat ek hulle in my tuin het en ek moet sê hulle groei besonder maklik. Vaar goed in potte, benodig nie veel instandhouding nie, en die plante dra welig. Jy sal hulle hoogstens aan bamboeslote of so iets moet anker sodat hulle nie begin kantel van die gewig van die vrugte, of deur die wind omgewaai word nie. Regtig hoogs aan te bevele, en dit verg net dat jy geduldig moet wag dat die groen rissies geleidelik ryper en, uiteindelik, rooi word.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s