Grenadellas aan die beurt

grenadelllas voor1
Dalk nie die beste van planne vir ‘n witwarm dag nie, maar vir ‘n hele ruk al het ek die behoefte om ‘n soufflé aan te pak – en spesifiek ‘n grenadella-soufflé. Bietjie lugtig vir hierdie ene, want dié gebak kan maklik platval, en daarmee saam die bakster se gemoed. Ek het al voorheen die fout gemaak om ‘n sjokolade-soufflé wat nog effens wankelrig gelyk het, vir ‘n paar minute terug te sit in die oond…
Al ons gaste het maar ewe ordentlik sit en knaag aan wat in wese ‘n sjokolade-omelet geword het. Ai.

In elk geval, hierdie keer het dinge beter gevaar, want ek het die resep – een van Donna Hay – tot die letter gevolg. Destyds al het ek my les geleer: met bakresepte karring jy nie sommer nie.

Dit verg ‘n bietjie moeite, want die grenadellamengsel moet eers goed in die yskas afkoel voordat die geklopte eierwitte bygevou word. En ek het my bedenkinge gehad oor die mielieblom wat by die warm vrugtemoes geroer word. Maar goeie aarde, dis lekker. Soetsuur en absoluut veerlig. En die grenadellavrug self – ek het al vergeet hoe eksoties die reuk van ‘n ryp passievrug is. En dat my oupa dit in sy indrukwekkende groentetuin op Jeffreysbaai gekweek het. Geen wonder die vrug laat my dink aan Desember-vakansies en plesierige ledigheid nie.

Grenadella-soufflé
Lewer 6 klein porsies

grenadellas na2

Bestanddele:
⅓ koppie grenadellamoes
3.5 T strooisuiker
1 T suurlemoensap
2 t mielieblom
1.5 t water
3 eierwitte
botter, gesmelt, om die bakkies uit te smeer
versiersuiker, om oor te sif

Metode:
1. Smeer die ramekins met gesmelte botter uit (gebruik verkieslik ‘n kwassie en smeer van onder af opwaarts, blykbaar help dit die soufflé om teen die kante uit te rys.) Strooi liggies met strooisuiker.
2. Plaas die grenadellamoes, 1.5 T strooisuiker en suurlemoensap in ‘n pot oor medium hitte en roer tot die suiker gesmelt het. Draai nou die hitte op tot die mengsel liggies kook.
3. Maak ‘n pasta van die mielieblom en water. Verwyder die pot van die hitte en roer die pasta by die grenadella-mengsel. Plaas die pot terug op die stoof en roer kortliks totdat die mengsel verdik. (Jy sal vinnig moet roer, die mielieblom is geneig tot aanpak!) Skep die mengsel in ‘n groot mengbak en plaas in die yskas totdat dit heeltemal koud is.
4. Klits intussen die eierwitte tot dit sagte voue begin maak, gooi dan geleidelik die oorblywende 2 T strooisuiker by terwyl jy klits, hou aan tot alles op is en die eierwitte ‘n mooi blink glans begin kry.
5. Vou nou die eierwitte ligweg by die grenadella-mengsel in. Moenie te hard roer hie – die doel is om soveel moontlik van die lug in die eierwitte te behou.
6. Skep die mengsel in die ramekins – sommer tot heelbo teen die rantjies* – en bak vir 10 minute teen 180 grade. Haal uit en sif bietjie versiersuiker oor. Sit DADELIK voor, hoe langer jy wag hoe meer gaan die soufflé begin hoogte verloor. Donna stel voor ‘n skep vanieljeroomys daarby, maar eerlikwaar, hierdie klein poedings is heeltemal lekker en dekadent genoeg op hul eie!

* WENK: Om die sogenaamde top hat-effek te kry sodat die soufflé daardie mooi rantjie vorm: gebruik die stomp kant van ‘n sosatiestokkie en trek ‘n netjiese lyn al langs die binneste rant van die bakkie.

2 thoughts on “Grenadellas aan die beurt

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s