Alle eer aan aspersies

aspersies voor

Groot was my plesier toe ek vanoggend na my seisoenale kalender loer en opmerk aspersies is nog in seisoen – om een of ander rede het ek gedink ons kry hulle net van September tot Desember. Dus moes daar onmiddellik planne gemaak word vir iets met aspersies vir middagete. Dalk ‘n frittata met aspersies, grasuie en bokmelkkaas? Of ‘n vinnige aspersietertjie in die oond gebak? Of net so gestoom en opgekikker met ‘n skeut suurlemoensap, sout, peper en ‘n paar skaafsels parmesan? Uiteindelik het ek besluit op ‘n warm aspersieslaai, ‘n mengelmoes van ‘n resep op grond van my soeke in die internet en iets wat alles bevat het waarvoor ek lus was: aspersies, roket, tamaties, aartappel, rooi uie en dies meer.

Warm aspersieslaai
Genoeg vir 2-3

aspersies klaar

Bestanddele:
1 bondel vars aspersies
80 g roket
700 g baba-aartappels
250 g kersiestamaties
1 knoffelhuisie, fyngekap
sowat ‘n derde van ‘n groot rooi ui, fyngekap
olyfolie
rooiwynasyn

Metode:
Verhit die oond to 180 grade
1. Kook die aartappels tot halfgaar. Laat effens afkoel en sny dan in dik skywe, bedrup met olyfolie en geur mildelik met sout en peper.
2. Drup bietjie olyfolie oor die tamaties. Plaas dit saam met die aartappels op ‘n bakplaat en bak vir so 20-25 minute tot die aartappels goudkleurig is en die tamaties begin bars.
3. Spoel die aspersies goed af en breek die onderste duim van elke stingel af. Stoom nou vir so 2-3 minute tot heldergroen, verwyder van die stoof en spoel dadelik met koue water af (hoe kouer hoe beter) om die kleur te behou.
4. Braai intussen die knoffel en uie oor ‘n medium hitte tot net deursigtig; draai die hitte af maar hou die pan op die plaat.
5. Skep nou die geroosterde tamaties uit die bakplaat in die pan (hou egter ‘ n handvol tamaties eenkant). Voeg sowat 15 ml olyfolie en 15 ml rooiwynasyn by die mengsel in die pan en meng goed, sodat die tamaties se sappe ontsnap en jy gelaat word met ‘n effens growwe rooi ‘slaaisous’.
6. Rangskik die roketblare oor 2 tot 3 borde, afhangende van hoeveel mense jy voer. Rangskik die aartappels, heel tamaties en aspersies na smaak, geur met sout en peper en bedrup met die tamatiesous.

* Opsionele ekstras: ek het ‘n saggekookte eier by my slaai gevoeg, al te lekker, want aspersies en eiers is uitstekende pasmaats. Ook besonders sal wees skywe sagte bokmelkkaas. En as nie een van bogenoemde jou aanstaan nie sal swart olywe ook nie ‘n slegte gedagte wees nie.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s