Nog bessies – bloues hierdie keer

Bloubessies voor

Ek was nooit voorheen ‘n aanhanger van die bloubessie nie – het altyd gevoel dis veels te duur in die winkels én dan voel dit of die bessie bietjie persoonlikheid ontbreek. Soet, ja, maar sonder die effense skerpheid wat die framboos, aarbei en appelliefie so interessant maak. En dan het dit daardie eiesoortige, mosagtige karakter (ander mense sal dit beskryf as ‘aards’) wat maklik kan ontwikkel in ‘n muwwerige smaak.

En tog. Op die ingewing van die oomblik een dag het ek ‘n bloubessieplant by ‘n kwekery aangeskaf, een wat nou vir ‘n paar jaar al in ‘n groot pot woon en heel gelukkig aangaan. En die bessies wat ek van hom pluk … wel, dis ‘n heel ander storie.

Mense wat evangeliseer oor die wonders van ‘n sonryp tamatie? Dieselfde geld vir die bloubessie. Warm en ryp gebak deur die son, is dit ‘n soetsuur happie met amper ‘n blomagtige parfuum waarvan ek nog nooit die gelyke in ‘n supermark gevind het nie. Maar as jy nie ‘n plant het nie, die bloubessie is nou in seisoen en dus die winkels én markte vol.

(Die bloubessie, terloops, groei flink in potte, hou van baie direkte son, heelwat water en ‘n goeie dosis bemesting so elke dan en wan, en het soms – afhangde van die variëteit – ‘n maat nodig. Ideaal vir klein of selfs balkontuine…En sy klein pienk, klokkieblommetjies is op sigself ‘n plesier.)

In elk geval, sopas het ek vir die eerste keer genoeg bessies gehad om behoorlik daarmee te kan kosmaak, en het ek gedink bloubessie plaatkoekies is in orde. Die manier waarop die bessies mettertyd begin oopbars in die hitte en hul diep, bloupers sap begin afgee, maak my besonder gelukkig.

Bloubessie-plaatkoekies 
Lewer so 16-20

bloubessies 2

Bestanddele:
2 k bruismeel
¼ t koeksoda
100 ml strooisuiker
375 ml volroommelk
7.50 ml vanielje-ekstrak
1 eier
1 k vars bloubessies
heuning (opsioneel)

Metode:
1. Sif die meel en koeksoda saam, gooi die suiker by en roer goed.
2. Klits die melk, eier en vanielje saam tot deeglik gemeng.
3. Voeg die melk-mengsel geleidelik by die droë bestanddele en roer goed (of klits vinnig) tot alles goed gemeng is.
4. Gooi die bessies by en meng.
5. Verhit so 20 ml botter in ‘n kleefvrye pan oor medium hitte en drup eetlepelsvol van die beslag daarin om die plaatkoekies te vorm.
6. Die koekies is gereed om omgedop te word wanneer dit borrels aan die bokant begin vorm.

Sit voor saam met heuning of goue stroop. Ek vermoed ‘n sifsel versiersuiker sal ook geen skade maak nie.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s