In seisoen: frambose (raspberries)

Frambose voor1

Vir dae lank nou al is ek lus vir ‘n poeding wat ek vir die eerste keer by die nimlike restaurant Chefs Warehouse in Breestraat, Kaapstad geëet het. Daar sit hulle voor ‘n sysagte suurlemoenpoeding by name die Lemon Posset – met ‘n pikante frambroos- of kersiestroop daarby. Hemels is nie die woord nie. En siende frambose nou in seisoen is – en nou eenmaal uitgeknip is om uitstekend met suurlemoen oor die weg te kom – het ek bietjie geëksperimenteer met ‘n resep.

Die resep vir die posset self is baie eenvoudig – bloot room en suiker wat opgekook en gegeur word – en leen hom tot heelwat moontlikhede. Ek sien mens kry ‘n lemmetjie-weergawe ook, en grenadella, en dan kan ‘n mens nie anders as om te wonder oor die belofte wat iets soos witsjokolade inhou nie …

Maar eers, suurlemoen & frambose. Die eindresultaat hier ‘n ryk bederf, die perfekte kombinasie van soet en suur, ideaal vir soel somersaande. Dit het ‘n wonderlik sagte tekstuur; niks van daardie rubberagtige bonserigheid wat jy soms by ‘n panna cotta teekom nie.

Lemon posset (roompoeding?) met framboosstroop
Genoeg vir 6

frambose na

Vir die suurlemoenpoeding:
750 ml room
100 ml vars suurlemoensap (deur sif gegooi om suurlemoenvesels te verwyder)
150 g strooisuiker

1. Verhit die room en die suiker in ‘n pot op die stoof. Bring tot kookpunt en draai die hitte af. Roer tot die suiker opgelos het en laat liggies prut vir ‘n paar minute.
2. Verwyder van die hitte, roer die suurlemoensap by en laat kortliks afkoel.
3. Verdeel die mengsel eweredig tussen 6 ramekins of klein glasies en laat vir ten minste 4-5 ure afkoel en stol in die yskas.*

Vir die stroop:
Uit ‘n pakkie van 200 g frambose, plaas sowat 100 g in ‘n pot met ‘n driekwart koppie water en sowat 4 t strooisuiker (of na smaak). Laat liggies prut oor medium hitte (hou die mengsel fyn dop, as dit te warm raak sal dit te veel afkook). Roer deur wanneer dit lyk asof die bessies begin sag raak en druk hulle liggies uitmekaar sodat die geure kan ontsnap. Wanneer die mengsel ‘n helder, kersierooi kleur is kan jy die hitte effens opdraai sodat die stroop begin verdik. Gooi deur ‘n sif om die pitte te verwyder, en laat die stroop behoorlik afkoel in die yskas.

Om voor te sit:
Gooi ‘n lagie van so 5 mm stroop oor elke poeding en voeg so 3 vars frambose in elke glas of bakkie by. Val weg.

* Nota: Dit is ‘n lieflike maar bitterlik ryke nagereg. Moenie swig voor die versoeking om groot porsies te skink of op te dien nie – 125 ml per persoon sal meer as genoeg wees.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s