Laventel-geïnspireerde lafenis

laventel voor

Daar’s heelwat kruie in my tuin – tiemie, pietersielie, ‘n hele paar soorte ment, roosmaryn, roosmalva, suurlemoentiemie … maar my gunsteling bly laventel, en spesifiek Franse laventel, die soort met die sagte blaar en blom. Fluweelsag. So subtiel mooi as wat die krui is, met sy skaam pers blommetjes en grysgroen blare, so parmantig is sy parfuum – verbasend sterk, amper oordonderend. En ek geniet veral die feit dat, van al die plante in my tuin, laventel die meeste bye lok.

Buiten die wete dat hierdie krui blykbaar kalmerende eienskappe het (goed vir slapeloosheid, in ‘n kruiesakkie onder die kussing, lees ek, of ‘n paar druppels olie in die bad) weet ek lankal dit word gebruik in die kookkuns, meestal vir gebak – scones, koekies ensomeer. My plan vir die dag is egter veel minder goedig: ek het in gedagte ‘n laventel-gegeurde skemerdrankie. Die French 75, om pressies te wees. Dit is tradisioneel ‘n mengsel van gin en vonkelwyn, met ‘n skeut suurlemoensap. Maar onlangs het ek die idee raakgelees van ‘n laventel-gegeurde suikerstroop vir drankies, en vandag is die dag. Die resultaat is ‘n sterk maar besonder elegante cocktail, een wat ek laatmiddag met groot genoegdoening op die dek geniet.

lavender klaar

Continue reading

Sappige soetrissies uit die tuin

peppers voor
‘n Openbaring, vandag. Ten spyte van ‘n temperatuur van 33 plus skakel ek die oond aan en plaas ‘n paar heel rooi soetrissies in die oond om te rooster. Net so, geen olie of niks. Skaars tien minute later begin wonderlike geure deur die huis drentel. Sowat 40 minute daarna word hulle uitgehaal, skoon swart gebrand, en in plastieksak toegemaak om bietjie verder te stoom, sodat die skille maklik kan afkom.

Die eindresultaat, die rissievleis, nadat jy die skil verwyder het, is iets uit ‘n ander wêreld: die kleur (skielik skelrooi), die tekstuur (murgsag), die smaak (soetsuur, en met ‘n subtiele, rokerige aard); alles ongelooflik. ‘n Fees vir die sintuie. Ek dink ek is verlief. Nog meer, ek dink nie ek gaan my ooit weer bemoei met ‘n rou soetrissie nie. Die geroosterde weergawe het net soveel meer karakter. Dit help natuurlik dat dié betrokke rissies uit my tuin kom. Mens is geneig om bevooroordeeld te wees oor enigiets wat jy self gekweek het …

In elk geval – die rissies, geskil, pitte verwyder en grofweg opgekap, word deel van ‘n bitterlik eenvoudige pastasous, een wat ek in alle nederigheid moet erken van die lekkerste pasta’s is wat ek nog ooit geëet het. Eenvoud wen, dikwels.

Pastasous met geroosterde soetrissies
Genoeg vir 4 porsies
peppers klaar

Continue reading

Grenadellas aan die beurt

grenadelllas voor1
Dalk nie die beste van planne vir ‘n witwarm dag nie, maar vir ‘n hele ruk al het ek die behoefte om ‘n soufflé aan te pak – en spesifiek ‘n grenadella-soufflé. Bietjie lugtig vir hierdie ene, want dié gebak kan maklik platval, en daarmee saam die bakster se gemoed. Ek het al voorheen die fout gemaak om ‘n sjokolade-soufflé wat nog effens wankelrig gelyk het, vir ‘n paar minute terug te sit in die oond…
Al ons gaste het maar ewe ordentlik sit en knaag aan wat in wese ‘n sjokolade-omelet geword het. Ai.

In elk geval, hierdie keer het dinge beter gevaar, want ek het die resep – een van Donna Hay – tot die letter gevolg. Destyds al het ek my les geleer: met bakresepte karring jy nie sommer nie.

Dit verg ‘n bietjie moeite, want die grenadellamengsel moet eers goed in die yskas afkoel voordat die geklopte eierwitte bygevou word. En ek het my bedenkinge gehad oor die mielieblom wat by die warm vrugtemoes geroer word. Maar goeie aarde, dis lekker. Soetsuur en absoluut veerlig. En die grenadellavrug self – ek het al vergeet hoe eksoties die reuk van ‘n ryp passievrug is. En dat my oupa dit in sy indrukwekkende groentetuin op Jeffreysbaai gekweek het. Geen wonder die vrug laat my dink aan Desember-vakansies en plesierige ledigheid nie.

Grenadella-soufflé
Lewer 6 klein porsies

grenadellas na2

Continue reading

In seisoen: mango’s

mangoA
Sedert die perskeslaai-met-skop van die ander dag het die gedagte begin groei om dieselfde eksperiment met mango’s uit te voer – die vrug se tropiese karakter leen hom darem net perfek daarvoor om met ‘n titsel brandrissie opgetert te word.

‘n Rysslaai, het ek besluit. Een met handevol koljander, kruisement uit my tuin en ook ‘n brandrissie of twee – laasgenoemde groei op die oomblik so welig dat die plante skoon skuinslê van die gewig … Ons het, terloops, ‘n mangoboom in die tuin. (Vorige eigenaars se erfenis, saam met ‘n koejawel en ‘n vla-appel.) Die mango het egter nog nooit gedra nie – ek vermoed hy het ‘n maat nodig. Iets om reg te stel vanjaar. Maar eers: middagete.

Rysslaai met mango en Thaise vinaigrette
Lewer 4 porsies

manog4

Continue reading

In seisoen: eiervrugte

eiervrugte vooreiervrugte na1

So, ek het heerlik gekook met vrugte die afgelope ruk, nou is dit tyd om bietjie die groente beet te kry, en ek spring weg met die eiervrug. Nie ‘n REUSE aanhanger daarvan nie, as ek nou eerlik moet wees. (Ek’s nie lief vir groente wat sag en sponserig raak by die eerste teken van hitte nie.) Maar my man is ‘n nogal erg daaroor en buitendien was ek opsoek na ‘n meat-free Monday-resep, toe val die gedagte van Ratatouille my by. En nie sommer enige weergawe daarvan nie –  spesifiek die aanskoulike resep wat die rot Remy in die pragtige fliek Ratatouille gemaak het.

Continue reading

In seisoen: waatlemoen!

‘n Versengende dag in die Kaap. Die kwik draai by 32 en die kraaie gaap. Al wat my deur die ellelange dag kry is ‘n halwe, yskoue waatlemoen in die yskas waarvan ek elke nou en dan ‘n wig gaan afsny vir soet lafenis … en die waatlemoen-margarita wat beplan word vir uitkloktyd. Die waatlemoen sorg dat dit ‘n minder suur gedoente is as die tradisionele margarita; boonop is daar min dinge so verfrissend soos koue waatlemoensap op ‘n snikhete dag.

Waatlemoen-margarita
lewer 1 drankie

waatlemoen

Continue reading

Alle eer aan aspersies

aspersies voor

Groot was my plesier toe ek vanoggend na my seisoenale kalender loer en opmerk aspersies is nog in seisoen – om een of ander rede het ek gedink ons kry hulle net van September tot Desember. Dus moes daar onmiddellik planne gemaak word vir iets met aspersies vir middagete. Dalk ‘n frittata met aspersies, grasuie en bokmelkkaas? Of ‘n vinnige aspersietertjie in die oond gebak? Of net so gestoom en opgekikker met ‘n skeut suurlemoensap, sout, peper en ‘n paar skaafsels parmesan? Uiteindelik het ek besluit op ‘n warm aspersieslaai, ‘n mengelmoes van ‘n resep op grond van my soeke in die internet en iets wat alles bevat het waarvoor ek lus was: aspersies, roket, tamaties, aartappel, rooi uie en dies meer.

Continue reading