Laaste van die boerbone

Pasgeplukte boerbone
Pasgeplukte boerbone

Ek het vanjaar vir die eerste keer boerbone geplant. Dit het maande se oppas en oplei en natlei en pamperlang geverg, maar uiteindelik het ek ‘n groot genoeg oes gehad vir meer as ‘n paar happe vol.

Dis een van die groentes waar jy die verskil tussen vars en winkelkoop die duidelikste kan proe. Ek het een keer die fout gemaak om boerbone by die supermark te koop, ‘n plaas se prys vir ‘n handvol, en hoewel hulle pragtig groen was, en ek hulle minute en minute lank gekook het, het die bleddie boontjies nooit eers naby sag gekom nie. En hier kweek ek my eie en moet spring om hulle ná drie minute uit die vrolik kokende water te pluk voor hulle begin vermurwe. Maar wat ‘n heerlike, unieke smaak wag daar nie op die eter nie. Die boerboon vra die minimum moeite en gekarring – ‘n spatsel olyfolie, ‘n titsel suurlemoen, sout en swartpeper na smaak … koningskos.

Die eerste aand het ek gespeel met ‘n hummus van gestoomde boerbone, gemeng saam met gestoomde baba-ertjies en broccoli. Met ‘n titsel knoffel en suurlemoen. Dit was heerlik (bo-op gebraaide lamstjoppies en aartappels, mmm) maar die bone het so half verdwyn in die grasgroen geheel. Veel beter om dit so natuurlik moontlik te geniet, en heel, sodat die vet boontjie  eers mooi op jou tong rus voor dit saliglik verkrummel. Die tweede resep was veel meer geslaag – gesoute ham en boerbone is ‘n onverbeterlike kombinasie …

Terloops – en eintlik nogals belangrik – party mense is allergies vir boerbone. Dit is ‘n toestand wat favism genoem word en kan tot verlamming lei! Dis blykbaar algemeen onder mense van suid Europese afkoms, so loer bietjie na jou stamboom.

Eenvoudige slaai van boerbone en Spaanse ham
Eenvoudige slaai van boerbone en Spaanse ham

Eenvoudige slaai van boerbone en Spaanse ham

Genoeg vir 2
(as ligte voorgereg)

Bestanddele:
Twee handevol roketblare
Sowat 100 g boerbone (uitgedopte gewig)
100 g Spaanse ham soos serrano
Handvol platblaar pietersielie
Olyfolie

Metode:
Kook die boontjies in gesoute kookwater vir so 3-4 minute. (Toets ná so 3 minute of wat of dit sag genoeg is. Vars bone kook baie vinnig gaar). Verdeel die blare tussen twee borde & rangskik die repe ham bo-oor. Spoel die bone vinnig af met koue water om te keer dat dit verder gaarkook, en sprinkel oor die slaai. Verwyder die pietersielie van die stingels en strooi die blare bo-oor. Drup olyfolie oor na smaak, geur met sout en peper. Eet en geniet!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s