In seisoen: pikante kersies

Kersies - nou in seisoen
Kersies – nou in seisoen

Dit het eintlik alles begin by amandels. Vir die afgelope paar maande word daar in hierdie huis nie melk gedrink nie (om komplekse mediese redes, kom ons sê maar net: maagpyn). So ek moes ‘n ander plan begin maak wat betref ontbyt – want hoe nou met pap en dies meer? Toe ontdek ek die wonder van amandelmelk, spesifiek dié wat jy self maak – geweekte amandels in ‘n voedselmenger saam met water fyngemaal en dan deur ‘n sif gegooi. Die gevolglike vloeistof, die amandelmelk, is heerlik oor hawermoutpap (enige pap, eintlik). Maar die fyngemaalde amandels wat oorbly… ek kon nog nie ‘n nut daarvoor kry nie. Tot die besef onlangs deurgedring het dat mens mos daarmee kan bak.

En natuurlik is kersies in seisoen op die oomblik.

Continue reading

In seisoen: bruin uie

Nie gedink ek sal ooit wil skryf oor bruinuie nie – dis so alledaags, en word tog meestal gebruik as geurmiddel. Maar onlangs het ek bietjie by die Oranjezicht City Farm gaan kuier, waar die Texas Grano bruinuie tans geoes word. Dié ui, gekweek van erfenissaad (heirloom seeds), maak die pragtigste wit blomtoppe – waaruit die saad dan weer mettertyd geoes word.

Bruinui in blom
Bruinui in blom

‘n Gesprek met een van die vrywillige tuiniers by dié indrukwekkende groentetuin het laat blyk dat die Texas Grano ui soet en baie matig is – wat dit perfek maak om vars in slaaie te gebruik. Met dít in gedagte, en met die idee om terselfdertyd van die pietersielie wat bos gaan in my tuin op te gebruik, het ek ‘n resep van Saveur vir ‘n uie-en-pietersielie slaai aangepas.

Continue reading

Laaste van die boerbone

Pasgeplukte boerbone
Pasgeplukte boerbone

Ek het vanjaar vir die eerste keer boerbone geplant. Dit het maande se oppas en oplei en natlei en pamperlang geverg, maar uiteindelik het ek ‘n groot genoeg oes gehad vir meer as ‘n paar happe vol.

Dis een van die groentes waar jy die verskil tussen vars en winkelkoop die duidelikste kan proe. Ek het een keer die fout gemaak om boerbone by die supermark te koop, ‘n plaas se prys vir ‘n handvol, en hoewel hulle pragtig groen was, en ek hulle minute en minute lank gekook het, het die bleddie boontjies nooit eers naby sag gekom nie. En hier kweek ek my eie en moet spring om hulle ná drie minute uit die vrolik kokende water te pluk voor hulle begin vermurwe. Maar wat ‘n heerlike, unieke smaak wag daar nie op die eter nie. Die boerboon vra die minimum moeite en gekarring – ‘n spatsel olyfolie, ‘n titsel suurlemoen, sout en swartpeper na smaak … koningskos.

Continue reading